JF OESTER

Wie kraai vanjaar koning by die Classic Clash?

by | May 13, 2024 | 0 comments

Op 6 Mei het die groot week aangebreek. Daar was ’n elektriese atmosfeer onder die JF’ers soos hulle in groen by die skool opgedaag het. Die VRL het ook gesorg dat elkeen met ’n groen of oranje ballon op hulle skooltasse pronk.

Dinsdag het almal lekker gemaklik rondgeparadeer in hulle onderskeie weergawe van “socks and sandals” en sommige van die onnies het ook ingespring en deelgeneem aan dié inisiatief.

Toe Woensdag aanbreek was dit maar swaar dra al aan die een kant, want niemand het skooltasse skool toe gebring nie! ‘n Matriekleerder moes haar boeke elke periode uit ’n asdrom, wat sy oral saamgesleep het, uitgrawe, en ’n ander seun het sy boeke aan ’n visstok se hoek rondgedra! Daar was ook talle koelerbokse, piekniekmandjies en selfs kussingslope en duvet-oortreksels wat op dié dag hulle rol as skooltasse moes vervul.

Woensdagaand se Talent Clash in Sentraal se skoolsaal het beslis gesorg vir lekker vermaak! Natuurlik was die AKKERS weer ’n gunsteling, maar JF kon vanjaar ’n bietjie by Sentraal spog met die MAKKERS ook! Aan die einde van die aand het JF koning gekraai en beide die eerste en tweede plekke (Die Akkers en Brandon Nel onderskeidelik) ingepalm.

Donderdag was elke JF’er geklee in hulle trots-JF drag terwyl Dominee Jan Venter ‘n baie spesiale Hemelvaartdiens in die saal waargeneem het. Ons kon ook hierdie jaar ‘n besonderse spesiale Hemelvaart beleef aangesien JF en Sentraal hierdie dag saam afgesluit het met ’n Praise and Worship.

Die VRL het moeite gedoen sodat ons Vrydag net weer daaraan herinner is waarom JF so spesiaal is. Na die aflê van ’n eksamenvraestel het die hele skool saam in die saal bymekaargekom om die skool se verjaarsdag te vier! Daar is ook tydens die Big Brag ’n bietjie met die skool se sportspanne gespog, en met Teambo se hulp is daar ook lekker gees gevang ter voorbereiding van die naweek se manewales.

’n Klomp sport- en kultuuraktiwiteite, onder andere die tennis, pool, debat, spelkompetisie, ensovoorts, het al gedurende die week met Sentraal gaan koppe stamp, waar JF in die meeste gevalle met die oorwinning weggestap het. Vrydag is die eerste hokkiewedstryde gespeel waar die eerste dogterspan gelykop gespeel het en die eerstespanseuns gewen het.

Toe die groot dag Saterdag aanbreek, was elkeen reg vir aksie. JF het in groot getalle getrou in hulle skoolklere opgedaag en dit was duidelik dat ons daar was om te WEN! By die netbal het ons skoonskip gemaak en die eerste span het met ‘n telling van 38 – 12 stof in Sentraal se oë geskop.

Met die opbou van die hoofwedstryd het beide JF en Sentraal se pawiljoene gou vol geraak. Al twee skole het lekker gees gevang en het ook kans gekry om hulle optogte te doen. Toe die twee eerste spanne op die veld opdraf, het die realiteit begin inskop en die sing van JF se skoollied het gesorg vir hoendervleisoomblikke op die pawiljoen én op die veld.

Na ’n opwindende 70 minute het Jim Fouché se eerste span met trots die beker gelig!

Nou word daar net in angs en spanning gewag om te hoor wie die algehele wenner van die week se clash was …

JF, dankie dat jy so getrou opgedaag het hierdie week en met trots jou skool op en van die sportveld af teenwoordig het.

Saai om te oes, JF!

Elseri Venter

Oester KAF Jul 30, 2024

Drama – Waaroor die bohaai?

Dramatiese Kunste… Vir baie van ons graadagts en -neges was hierdie verpligte vak net dit: ’n verpligting, teen ons wil boonop, maar wat as ek vir jou sê dat drama eintlik eendag jou vriend sal wees, of jy nou op die kassie gaan verskyn of nie? Ons almal ken...

Oester KAF Jul 30, 2024

10 Wenke Om Hoërskool Te Oorleef

Om vyf jaar van hoërskool te oorleef, klink dalk soos iets wat bo jou vuurmaakplek is, maar vat dit nou van iemand wat al vir amper drie jaar redelik gemaklik deur hoërskool is – dit is makliker as wat jy dink! Volg hierdie tien beproefde wenke, en sien hoe ’n...

Oester Nuus Jul 17, 2024

Provinsiale kamp groot avontuur

Toe breek die bus. Berig deur: Gé Coetzee Die Kwaggas het die afgelope vakansie vanaf 14 tot 17 Junie die Vrystaat se jaarlikse Provinsiale kamp te On Track bygewoon. Ja, dit beteken ons vakansie het eers na almal anders s’n begin! Sewe klubs uit die Vrystaat het...

Oester Nuus Jul 16, 2024

EISH, MAAR JF IS LEKKER!

Vat Vlam belowe groot opwinding Hy word herken vir soveel dinge, maar sy onlangse realiteitsreeks “Op My Eish,” lui dalk meer van ’n klokkie. Die bekende Brendan Peyper, ’n oudskolier wat eerstespanrugby gespeel het en in 2014 by Hoërskool Jim Fouché gematrikuleer...

Oester Nuus Apr 30, 2024

JFFJ – Geloof brand in ons harte

Daar is soveel waardes wat vir JF belangrik is, maar geloof is beslis een van dié wat beklemtoon word. Talle skoolhoofde veg jaarliks om Christenskap in hulle skole te behou. Ons skoolhoof is definitief nie ‘n uitsondering nie.

0 Comments

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *