JF OESTER

Leer jou leier ken: Christiaan Wilken

by | Jul 21, 2023 | 0 comments

Loani en Christiaan by Radio Rosestad

Christiaan Wilken, hoofseun, is op 9 Maart 2005 in Mediclinic Bloemfontein gebore. Op die ouderdom van 3 is hy na Duimpie Pre-primêr. Hy kan sy eerste klas nog goed onthou! Eers die skilpadjie-klas en toe die Hasie-klas. Hy was tot in graad 4 in Bloemfontein Laerskool en in graad 5 het hy sy loopbaan voortgesit by Jim Fouché Primêr, waar hy ook in graad 7 as hoofseun aangewys is. In 2019 het hy by Hoërskool Jim Fouché aangesluit. Christiaan se dag begin gewoonlik om 05:00 soggens en eindig omtrent om 22:00 nadat hy huiswerk gedoen het. Hy is ‘n aandmens, maar het ook nie ‘n probleem daarmee om vroeg op te staan nie. Na ‘n lang dag sien hy uit daarna om op sy bed te lê en net te ontspan.

Christiaan se gunsteling-JF-tradisie is een wat onlangs by JF ingestel is. Die Maandagoggend ná die graad 8-oriëntering, trek die matrieks die graadagts se baadjies vir hulle aan. Dit is regtig spesiaal, veral vir die blinkoog graadagts, en ’n tradisie wat in sy opinie nog lank voortgesit moet word.

Nou nog onthou Christiaan 18 Januarie 2023. Tydens die skool se JFFJ-periode, net voor 08:00, het die krag skielik afgegaan. Die hele skool was besig om 10 000 reasons te sing … en selfs toe die krag afgaan, het hulle nie ophou sing nie. Christiaan voel dat JF hierdeur gewys het dat nie eens ’n kragonderbreking hulle gaan keer om die Here te loof en te prys nie. Dit het gesorg vir ’n ware hoendervleisoomblik, en Christiaan bieg dat hy dalk ’n traan weggepink het.

Ek vra hom toe die vraag waaroor ek dink almal wonder – hoe voel hy dat hy die enigste een van die vier hoofleiers is wat nie in die koshuis is nie? Gelukkig voel hy nie uitgesluit nie, sê hy. Hy voeg wel by dat hy baie respek vir hulle het en vir dit wat hulle doen, want hy sal nie so lank weg van sy ouers af kan wees nie! Op hierdie noot voeg hy by dat sy pa vir hom ’n groot rolmodel en motiveerder is.

Toe ek hom vra wat sy droom vir JF is, antwoord hy laggend dat hy hoop juffrou Anso Esterhuizen se Lewenswetenskapklasse se punte die hoogte in sal skiet! Sy gunstelingvak is Afrikaans, en hy is veral mal oor die taalgedeelte daarvan. Mnr. Wilken is sy gunstelingonderwyser – suiwer oor sy manier van klasgee. Toe ek noem dat ek self baie opkyk na sy pa, einste mnr. Wilken, en dat hy waarlik vir my ’n inspirasie is, antwoord Christaan dadelik: “Ons (hy en sy pa) moet saam opkyk; dit kom van Bo af.”

So wat is sy drome vir die toekoms?

Na skool wil Christiaan graag Ierland toe om daar te gaan krieket speel en daarna Ingenieurswese te swot. Sy grootste droom is om vir die Proteas krieket te speel.

Christiaan beskryf homself as rustig en sportief, maar sy klasmaats beskryf hom as iemand met integriteit, humoristies, veelsydig, beginselvas, nederig en ’n gentleman. (Wat ’n ongelooflike getuienis!) Sy lewensmotto is “adapt improve and overcome” en hy glo ook vas dat “jy nooit te veel roomys kan eet nie!” Hy wil onthou word as ‘n lekker ou en vir die voorbeeld wat hy geleef het. Hy hoop dat hy kon wys dat mens nie altyd hoef te praat om mense te inspireer nie. Die drie belangrikste goed vir hom is Jesus, sy ouers en krieket.

Nog kitsfeite oor Christiaan:

Hy gebruik Aquafresh of Colgate en het ’n pienk tandeborsel. Sy gunstelingtydverdryf is om gedigte te skryf. Hy hou van koffie en beskuit. Sy laaste maaltyd op aarde sal ’n Vanilla Steri-Stumpie insluit. Sy Gunstelingbybelvers is Job 19:25.

Oester KAF Jul 30, 2024

Drama – Waaroor die bohaai?

Dramatiese Kunste… Vir baie van ons graadagts en -neges was hierdie verpligte vak net dit: ’n verpligting, teen ons wil boonop, maar wat as ek vir jou sê dat drama eintlik eendag jou vriend sal wees, of jy nou op die kassie gaan verskyn of nie? Ons almal ken...

Oester KAF Jul 30, 2024

10 Wenke Om Hoërskool Te Oorleef

Om vyf jaar van hoërskool te oorleef, klink dalk soos iets wat bo jou vuurmaakplek is, maar vat dit nou van iemand wat al vir amper drie jaar redelik gemaklik deur hoërskool is – dit is makliker as wat jy dink! Volg hierdie tien beproefde wenke, en sien hoe ’n...

Oester Nuus Jul 17, 2024

Provinsiale kamp groot avontuur

Toe breek die bus. Berig deur: Gé Coetzee Die Kwaggas het die afgelope vakansie vanaf 14 tot 17 Junie die Vrystaat se jaarlikse Provinsiale kamp te On Track bygewoon. Ja, dit beteken ons vakansie het eers na almal anders s’n begin! Sewe klubs uit die Vrystaat het...

Oester Nuus Jul 16, 2024

EISH, MAAR JF IS LEKKER!

Vat Vlam belowe groot opwinding Hy word herken vir soveel dinge, maar sy onlangse realiteitsreeks “Op My Eish,” lui dalk meer van ’n klokkie. Die bekende Brendan Peyper, ’n oudskolier wat eerstespanrugby gespeel het en in 2014 by Hoërskool Jim Fouché gematrikuleer...

0 Comments

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *